maandag, december 11, 2006

Broekieloos enkellopen


Britney rinkink broekieloos met Paris

Dec 04 2006 09:50:52:270AM - (SA)


Los Angeles. – Haar halslyn het gesak, sy rinkink die hele nag saam met haar nuwe beste vriendin, Paris Hilton, en sy gooi selfs haar broekies weg.

Dít is die “nuwe” en nou weer enkellopende Britney Spears, wat vandag 25 word.

Asof sy wil bewys dat sy regtig nie so onskuldig is nie – soos sy in een van haar liedjies sing – is dié popprinses en ma van twee besig om ál hoe losbandiger te raak. Sy skok haar aanhangers, maak haar vriende bekommerd en is die gereelde teiken van grappe op laatnag-TV-geselsprogramme.

Die Amerikaanse weeklikse tydskrif Girls Gone Wild se voorbladstorie dié week is oor Spears se dobbelary in Las Vegas en besoeke aan klubs en winkelsentrums saam met Hilton die afgelope twee weke.

Sy is ook tydens verskeie geleenthede afgeneem waar sy in en uit motors met geen broekie aan nie, klim.

Die jongste media-storm kom twee jaar nadat Spears haar musiekloopbaan op ys geplaas het om ma te word en drie weke ná sy ’n egskeidingsgeding teen haar man, die aspirant-rapper Kevin Federline, aanhangig gemaak het.

“Die afgelope ruk hoor en sien ek dinge en ek wonder wát gaan aan? Moet asseblief nie optree soos iemand wat jy nie werklik is nie. Dra onderklere!” skryf ’n lojale aanhanger op Spears se webwerf.

Die kletsprogram-aanbieder Rosie O’Donnell wat geskerts het dat sy Spears en haar twee jong seuns sal aanneem, het eer-gister ’n damesbroekie met die woorde “No Peeking” daarop as geskenk aan die sangeres aangebied.

Die glansskinder-bedryf meen die sangeres geniet die kollig.

“Britney slaag daarin om ons te dwing om oor haar te praat. Sedert die begin het sy haar loopbaan daarop gebou om ons te skok en sy sal eindelik seë­vier weens dit,” sê Ken Baker, van Us Weekly.

Met Federline – bekend as K-Fed en nou deur die media tot Fed-Ex gedoop – uit die prentjie, was Spears en Hilton die laaste twee weke onafskeidbaar.

Die twee blondines het selfs ’n paar visnet-kouse gedeel en elkeen het ’n been daarvan gedra.

Tydens ’n ander geleentheid is hulle in identiese luiperdvel-uitrustings afgeneem met Spears in ’n skrapse minirok.

Spears is vandeesweek gewaar terwyl sy korsette en deurtrekkers by ’n onderklere-boetiek in Hollywood koop. Volgens die kletswebwerf TMZ.com het sy meer as $3 000 (sowat R22 000) by die winkel bestee. – Reuters